Ons Proses
Bereik – Stuur hulle uit
Jesus is verlosser/redder. Dit beteken iemand moet verlos of gered word.
Dis waar alles begin. Rom 3:23 sê “ALMAL het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”. Dit beteken ons almal het Jesus as ons verlosser of redder nodig. Ons kan dit nie self regkry nie anders kon ons, ons eie verlosser of redder wees. Die goeie nuus is, God wil ons red en hy het nie ons hulp daarmee nodig nie. Met ander woorde, ons “goeie” dade dra nie daartoe by dat ons gered word nie! WOW… is dit nie “great” nie?
Nou sê 2 Pet 3:9 dat God wil hê dat NIEMAND verlore moet gaan nie, maar dat ALMAL die kans sal hê om gered te word. Dis waarom Jesus nog nie terug gekom het nie.
Die merkwaardigste van dit alles is dat, al kan ons onsself nie red nie, wil Jesus hê ons moet help dat mense Hom as verlosser sal vind sodat Hy hulle kan verander en hulle weer sal help dat ander mense Jesus as verlosser sal vind. So herhaal die proses homself. So word gelowiges ook gestuurdes! Eers ingebring en toe uitgestuur.
HOE MOET ONS DIT DOEN?
Hoe gaan ons dit regkry? Op twee maniere.
- Nooi mense kerk toe en nooi hulle na jou selgroep toe.
- Leef op so ‘n manier (in toewyding aan God) dat jou karakter en die Heilige Gees se vermoë (krag) mense sal oortuig van God se betrokkenheid in JOU lewe. As jou hart vol is van God se goedheid en liefde, sal jou mond daarvan oorloop (jy sal nie kan stilbly daaroor nie).
Behoort – Bring hulle in
In ’n sekere mate kan ons bepaal hoe ’n gemeente gaan funksioneer en wie aan die gemeente kan behoort, maar ons kan nie bepaal wie deel van God se familie, Sy kerk, kan wees nie. God self bepaal wie Hy deel van Sy familie sal maak. Gelukkig is God nie vaag of onduidelik oor wie Hy as Sy kinders sien nie.
Daar is ’n paar terme wat ons kan gebruik om te praat van God se familie. Ons kan na hulle verwys as Christene, wedergebore gelowiges, gereddes, die Kerk, God se volk, of die “Israel” van God (Rom 9:6, Gal 6:16), die bruid van Christus en die verseëldes. Hierdie is almal mense wat hulle verlorenheid gesien en erken het en wat Jesus vertrou het om hulle te red (in Hom geglo het vir verlossing). Jesus self sê in Joh. 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie”.
God bepaal dus lidmaatskap voorwaardes, nie ons nie. As leiers is ons net die administreerders (of bestuurders) van God se gemeente.
Hier is die “JISLAAIK” faktor… as gelowiges BEHOORT ons aan mekaar (omdat ons nou familie is). Net soos wat ouers wil hê dat hulle kinders goed met mekaar oor die weg sal kom, so wil God ook hê dat Sy kinders goed oor die weg met mekaar sal kom. Hy wil hê ek moet voel ek pas iewers in; ek maak saak; ek het iets om te gee en my sê tel ook. Hier by in-Christus probeer ons dat lidmate dit so sal beleef.
Die beste plek om te voel dat jy behoort is in ’n selgroep. Dit is die plek waar jy jouself kan wees, waar jy vir ander kan omgee, waar ander vir jou kan omgee en waar julle saam dinge waarvoor julle ’n passie het, kan doen.
Dit moet so aantreklik lyk vir buitestaanders dat hulle ook sal wíl behoort. Dit is dan ons kans om vir hulle te kan vertel hóé hulle dit kan regkry.
God soek ’n GROOT familie. Ons (ek en jy en elke gelowige) kan daarmee help. Kom ons bring hulle in!
Bou op – Bou hulle op
Die GROOT OPDRAG wat ons kry in Mat 28:19 is eintlik drie opdragte in een. Merkwaardig genoeg is die gedeelte wat die meeste mense dink waaroor die groot opdrag gaan “Gaan dan heen…” glad nie ’n opdrag nie. Die drie opdragte is “…maak dissipels…”, “…doop hulle…” en “…leer hulle…”.
Die “maak dissipels” is die evangelisasie komponent van die groot opdrag. Die “doop hulle” is die behoort of “fellowship” komponent en die “leer hulle” is die dissipelskap komponent van die groot opdrag.
Elke besigheid het ’n produk of ’n diens. Die produk van die kerk is “dissipels” – dit wat ons wil hê moet aan die ander kant uitkom. Die groot dilemma is dat daar nie ’n vraestel is wat jy kan skryf om te sien hoe ’n goeie dissipel jy is nie. Die enigste manier om iemand te evalueer is om te sien hoe hulle die karakter van Jesus demonstreer in moeilike- en elke dag omstandighede. Omdat dissipelskap ’n lewenslange proses is, kan ek nooit sê dat nie meer hoef te leer nie.
Die beste manier om te leer hoe om soos Jesus te word, is om die Bybel elke dag te lees en die waarhede (lesse) daarvan dan in jou lewe toe te pas. Jesus sê in Mat 7:24 “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het”.
Selgroepe speel so ’n belangrike rol in ons gemeente omdat dit die plek is waar ek toegerus kan word en kan oefen om waarlik ’n dissipel te wees. Wat lekker is daarvan, is dat dit ’n veilige plek is vir my om dit te doen. Ja, jy mag dalk foute maak maar dit is hoekom dissipelskap ’n groei proses is. Ek, en ander, leer dikwels meer uit my en ander se foute uit, as wat ons uit ons, of hulle, suksesse uit leer.
By die kerk, en in die selgroep, leer jy om te “fellowship”, om te aanbid, om te dien (bedien) en om jou geloof met ander te deel (evangeliseer), én, jy het ander mense teenoor wie jy verantwoordelik is om te groei.
Kom ons help mekaar om nie “wishy – washy” Christene te wees nie. Kom ons bou mekaar op om volwasse rolmodelle van Christus te wees (Ef. 4:11-16).
Bedien – Rus hulle toe
“Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien”. Dit is Jesus se woorde aan sy dissipels in Mat 23:11. Jesus het hierdie beginsel aan sy dissipels gedemonstreer toe hy hulle voete gewas het en vir hulle gesê het dat Hy vir hulle ’n voorbeeld gegee het om na te volg. In vers 17 van Johannes 13 sê Jesus “As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen”.
In Mat 20:28 sê Jesus dat hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Dit was Jesus se karakter – wie hy is en God sê dat Hy ons bestem het om te word soos Sy seun (Rom 8:29).
In Ef. 4:11-16 vertel Paulus hoe dat God verskillende bedieninge (ampte) aan die kerk gegee het, sodat gelowiges toegerus kan word vir hulle dienswerk. Hy gaan dan verder en sê dat die gemeente (liggaam van Christus) opgebou word en na volwassenheid toe groei as gevolg van elke lidmaat se bediening.
1 Pet. 4:10 sê dit so mooi in Die Boodskapper “God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help. Soos iemand wat in ’n huis aangestel is om ander te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat ons dit eintlik verdien”.
Die hele Nuwe Testament is vol hiervan – ons is nie gemaak om net vir onsself te leef nie. Ons is bestem om lief te hê en goed te doen. Wanneer ons mekaar dien, dan raak ons die belangrikste in God se koninkryk omdat ons indirek Jesus self bedien (Mat 25:40).
Bewonder – Aanbidding
Ek wet jou, toe jy “Aanbidding” lees het jy gedink ek gaan iets oor musiek sê. Ek gaan nie.
Aanbidding is ’n manier van leef en word saamgevat in een woord met twee fasette. Die woord is “LIEFDE”. Liefde vir God en liefde vir ander mense.
Hoe leef ek my liefde vir God uit? Ek leef dit uit deur ’n naby verhouding met Hom te hê waar ek hoor wat Hy vir my wil sê, waar ek met Hom gesels en uitdrukking aan my liefde vir Hom gee (ook deur musiek – vinnig en stadig; opgeruimd en gewyd) en waar ek meer van Hom leer (deur Bybelstudie, preke, ervarings en deur die inspraak van die Heilige Gees). Al drie hierdie aspekte – hoor, praat en leer, moet uitloop op doen. Die Bybel praat van die vrug van die boom.
Dit bring ons by die tweede faset – Hoe leef (doen) ek my liefde vir ander mense uit? Omdat ek God lief het en daarom doen wat Hy vra, volg ek basies net Sy voorbeeld en die riglyne wat Hy gee. 1 Joh 3:16 sê “Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters”. En Fil 2:4-8 sê vir ons dat Jesus mens geword het en as mens het Hy n dienskneg van mense geword (vgl. Ook Joh 13:13-15).
Wanneer ek God en mense liefhet en dit prakties demonstreer en uitleef, dan is ek werklik besig om God te aanbid. Dis nie ’n handeling nie, dis ’n leefwyse.